Thursday, February 25, 2016

Maklike paaseiers.doc

Maklike paaseiers

genoeg vir 48 eiers

Bestanddele
450 g geel koekmengsel (of die geur van jou keuse)
170 g ongegeurde, vetvrye Griekse jogurt
1 koppie water
2 groot eierwitte
1 teelepel vanielje geursel
5 of meer verskillende kleure voedselkleursel
900 g tot 1 kg smeltbare, wit sjokolade
Fyn lekkertjies van jou keuse vir versiering

Maak so
Voorverhit die oond teen 180 grade Celsius en smeer of spuit ‘n ronde kolwyntjiebakplaat met ‘n kleefwerende bakmiddel. Die kolwyntjiehouers moet rond wees sodat dit balletjies kan vorm wat as paaseiers dien.
Voeg die koekmengsel, jogurt, water, eierwit en vanielje geursel in ‘n bak en meng tot ‘n gladde beslag.
Plaas die deeg in ‘n plastieksak met ‘n oopgeknipte hoek, waardeur jy die deeg kan uitdruk. Druk die deeg in die ronde kolwyntjiehouertjies uit en bak vir sowat 18 minute. Jy kan die pan na 10 minute draai om seker te maak al die balletjies word eweredig gebak. Laat staan vir vyf minute.
Laat die balletjies dan op ‘n draadrak afkoel. Herhaal die proses tot al die deeg opgebruik is. As die balletjies ‘n rif vorm, sny dit af sodat dit mooi rond is.
Smelt die wit sjokolade volgens die instruksies op die pakkie en voeg dan die voedselkleursel by. Maak verskillende kleure sjokolademengsels aan. Druk ‘n sosatiestokkie in elke balletjie en doop dit dan in ‘n kleur sjokolademengsel van jou keuse.
Plaas die balletjie op waspapier en verwyder die sosatiestokkie. Bedek die gatjie wat die stokkie gemaak het, deur die stokkie in die sjokolade te druk en oor die gatjie te laat drup. Sprinkel of pak die fyn lekkertjies in patrone op die balletjies voor die sjokolade weer hard word. Jy kan ook strepe sjokolade van verskillende kleure oor die balletjies trek. Herhaal die proses met al die balle. Bêre die paaseiers in die yskas en bedien dit in ‘n mandjie. Jy kan die mandjie met versnipperde groen papier of servette uitvoer om soos gras te lyk wat onder die eiers lê. Geniet!

Resep en foto: In en om die Huis op Facebook

Blogger: http://eposvriende.blogspot.com         http://recipes-english.blogspot.com

http://lekkerresepte.blogspot.com         Recipes of Facebook:  www.facebook.com/ResepteRecipes