Thursday, January 15, 2015

Oliebolle met vla-vulsel.doc

Oliebolle met vla-vulsel

Maak: ongeveer 20
Bereidingstyd: 40 minute, plus rystyd
Gaarmaak tyd: 10 minute

• 125 ml melk
• 65 ml (60 g) botter
• 7 g droë kitsgis
• 645 ml (350 g) witbroodmeel
• 2 ml sout
• 55 ml (45 g) suiker
• 2 groot eiers, liggies geklits
• sonneblomolie vir diepbraai
• glansversiersel en/of kaneelsuiker

Vla
500 ml melk
6 eiergele
115 ml (100 g) strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
55 ml (30 g) koekmeel
20 ml (12 g) mielieblom

1 Verhit die melk en botter saam tot al die botter gesmelt het. Roer die gis by sodra die mengsel louwarm is.
2
Sif die meel, sout en suiker in ’n groot mengbak saam. Maak ’n holte in die middel en gooi die melkmengsel daarin. Voeg die geklitste eier by en roer als saam. Knie die deeg op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Voeg nog ’n bietjie meel by as dit te klewerig is. Dit moet ’n sagte deeg wees waarmee jy maklik kan werk. Knie dit vir 10 minute met die hand of in ’n elektriese menger. Bedek dit en laat dit rys tot dubbel die volume.
3
Knie die deeg weer vir vyf minute en rol dit dan in klein bolletjies. Laat die bolletjies vir ’n halfuur rys op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is.
4
Verhit die olie tot matig warm (175 °C) en braai dan die oliebolle vir een minuut tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.
5
Vla Verhit die melk tot kookpunt en haal dit van die plaat af. Klits die eiergele en suiker saam. Voeg die vanielje, meel en mielieblom by. Klop die mengsel tot dit lig van kleur is. Gooi die melk by die eiermengsel en klop dit met ’n draadklitser tot glad. Sit dit terug op die plaat en kook dit tot die vla begin verdik – klits dit die heeltyd met die draadklitser. Haal van die plaat af en laat heeltemal afkoel.
6
Skep die koue vla in ’n spuitsak met ’n metaalpunt. Gebruik ’n sosatie stokkie en maak ’n gaatjie in die punt van elke oliebol. Spuit die vla in die gaatjie.
7
Maak ’n glansversiersel wat jy oor die oliebolle kan drup, of sprinkel kaneelsuiker oor.

Variasies
Geur die vla met sjokolade of koffie – voeg 10 ml kitskoffiepoeier by die melk, óf 100 g donker sjokolade.



Source: inenomdiehuis.blogspot.com

Blogger: http://eposvriende.blogspot.com

http://recipes-english.blogspot.com

http://lekkerresepte.blogspot.com

 

No comments:

Post a Comment